As jy ’n sak vol kwepers kry probeer gerus een van die twee resepte: Blosende Oondgestoofde Kwepers, Die Lui Manier, of Gebakte Kwepers Vir Inlê.
As ek ’n meevaller kwepers kry maak ek ’n groot hoeveelheid op hierdie maklike manier, geen geskillery of klokhuis uitsnyery nie.
Blosende Oondgestoofde Kwepers, Die Lui Manier
Errieda du Toit
Notas
Die resep kan halveer word.
Dit hou twee weke in die yskas, net reg vir ontbyt, bykos of nagereg.
Die orige stroop kan by sodawater of vonkelwyn gevoeg word vir ’n pienk drankie.
Hier bedien ek dit met jogurt-hangkaas (labneh) en gekapte pimperneute.
Vir ’n Turkse geur voeg ’n druppel of twee rooswater by. Ook niks verkeerd met geklopte room, vla of vanieljeroomys nie.
Bestanddele
8 – 12 kwepers, afhangende van grootte
900 ml warm water
350 g suiker
Paar repe suurlemoenskil en/of lemoenskil
Kies 1 of 2 van die speserye na keuse:
vanieljepeul
kaneelstokkie
heel wonderpeper (allspice)
lourierblare
naeltjies
steranys
Metode
Voorverhit die oond na 160° C.
Was die kwepers en vryf die donsies af. Sny die kwepers in die helfte of hou dit heel as die kwepers aan die kleiner kant is.
Plaas die kwepers in ’n oondpan, giet die water oor en sprinkel dan die suiker oor. Voeg die speserye en suurlemoenskil by.
Bedek goed met aluminiumfoelie en bak sowat 3 – 4 ure tot die kwepers doeksag is en die stroop ’n diep robynrooi.
Haal uit die oond uit. Giet die stroop deur ’n sif en verkoel voor dit in die yskas geplaas word of eet die kwepers só louwarm.
Gebakte Kweper Vir Inlê
Errieda du Toit
Bestanddele
3 groot kwepers
300 ml warm water
20 ml suurlemoensap
300 ml suiker
geurmiddel soos vanieljepeul, pypkaneel, wonderpeper, steranys, kardomom, vars gemmer of lourierblaar
Metode
Bak die heel kwepers onbedek in die oond teen 160 °C vir 2½ - 3 ure tot die vel blase maak.
Laat afkoel tot hanteerbaar, sny deur, verwyder die skil en pitte en sny in dik skywe.
Stroop
Terwyl die kwepers in die oond bak, maak jou stroop: giet die warm water en suurlemoensap in ’n medium kastrol en los die suiker daarin op. Voeg die geurmiddels by.
Kook tot stroperig.
Voeg die kweperskywe by en prut vir 10 minute in die stroop.
Pak die vrugte in gesteriliseerde flesse en vul met die stroop en seël dadelik met die gesteriliseerde deksels.
Comments