Errieda Du Toit wonder oor haar ma se Sondag-tjipsbak tegniek wat sy so half-half onthou.
Twee groot geheimenisse van my Ma Inez se kos wat ek nie ontrafel kan kry nie: haar boerbeskuit (met die funky soetsuurdeeg) en haar Sondagtjips.
Die tjips was áltyd op die tafel, en ek het gereeld gesien hoe my broers onder tafelgebed ’n bros stukkie ‘eye’ om te gryp die oomblik as my pa amen sê. Goed gesout en asyn gesprinkel. Donsig binne, bros buite. Niks het nog weer so geproe nie.
Wat ek wel van my Ma se tjips-maak ritueel onthou is die Hart kastrolletjie en die tjips wat net al hoe goudkleuriger is elke keer wat ek verbygestap het. Dis ook asof die tjips haar gehoorsaam was: “braai julle nou mooi op julle eie, ek gaan nie agter julle kyk nie, want ek het nog báie ander kos wat moet klaarkom.”
Wat ek verder onthou is egter so lynreg teen konvensionele tjipswysheid… ek kan sweer sy het die geskilde aartappel in water en kookolie opgesit, eers deksel op (wat ek vermoed dit laat sagstoom het), dan die deksel af en soos die water verdamp begin die tjips braai. Dit het vrolik geborrel, nie allermintig baie olie nie. En dit het só op hul eie aangegaan tot dit aan my Ma se goue standaarde voldoen het.
Maar droom ek die metode van tjips wat kook in olie en water? Tog, dis nie vergesog nie. As ek kaiings maak gooi ek water by, dié water verdamp later en die vet braai af en die blokkies kaiing raak goudbruin bros.
Comments