Ruby Marks vertel hoe sy die totale aanslag van “meegevoel gemeng met gesonde herverdelingsgevoeligheid” van haar ma se vriendinne hanteer het kort na haar ma oorlede is.
Ek dink nou terug aan die stuitigheid van ons mense as iemand afsterf. Die keer gaan dit nie oor begrafniskos nie maar die geskimpery oor nalatenskap na die heengaan van geliefdes.
Ek onthou nou my ma se begrafnis ’n paar jaar gelede (of gister, soos dit party dae voel) toe die anties een vir een kom huil het saam met my. En dan vertel hulle my terwyl ons nog so staan, ek met trane in my bruin ogies, hart gebroke... “Ruby, jou ma het altyd gesê as sy eendag heengaan kan ek daai mooi powderblue suit kry wat jy vir haar in Londen gekoop het.”
En terwyl ek probeer herstel van die totale aanslag van meegevoel gemeng met gesonde herverdelingsgevoeligheid, seggens nog een, “en daai navy hoed met die wit piping het jou ma gese het my naam op!”
En dan sit hulle die sights ’n bietjie op, “haai, ek wil altyd ’n microwave gehad het!” en “daai tapyt in haar kamer sal soe mooi lyk in my voorhuis!”. En dit alles nog voor ons my ma ter aarde gelê het!
Maar ek is mos my ma se kind en het toe gedoen wat sy sou gedoen het - die volgende môre toe nog ’n antie kom klop was ek slaggereed.
Toe ek die deur oopmaak, staan Antie Dina daar in haar groen overall, en nadat sy eers weereens simpatiseer oor my ma wat ‘weg’ is vra sy nog ’n keer met ’n sagte stem maar met skerp ogies, “Nou wat gaan van al Katy se goed wôrre?” En antwoord ek: “Haai wie’ aunty Dina, my ma het mos gisteraand aan my verskyn en met groot erns met my gepraat!” Aunty Dina antwoord groot-oog. “Nuh Ruby, gewoonlik sien ’n mens hulle nie so vroeg nie! Wat het sy gesê?
Ek antwoord toe, “Nee aunty Dina, sy sê sy is nog besig om in te settle daar innie hemel en dat sy my sal laat wiet wie moet wat kry as sy eers lekker haar voete en haar vere gevind het!”
Antie Dina staan daar oopmond – en al wat sy toe maar kan uitkry is. “Ja, my kind, die dinge moet ’n mens ma’ tyd gee,” en toe “haai, laat ek loop voor my pot aanbrand!”
Gotto love them! Op die ou end het ek al my ma se meubels en klere vir mense in ons straat, Hendricksingel, Bellville-Suid, uitgedeel. Ge-inspireer deur Pastoor Nosey Pieterse se preek oor Dorkas.... wie weet, miskien het my ma tog in sy oor gefluister oor die regte boodskap wat sou lei na haar nalatenskap. En almal het gekry wat hulle so skimp oor gegooi het – maar in Katy se kind se tyd!
Nou besef ek ook dat haar nalatenskap nie aards was nie nie, want sy het die beste vir my nagelaat wat langer sal hou as ’n tapyt of ’n mikrogolf. Haar nalatenskap aan my was my selfdissipline, fokus, vriendskap-liefde vir vroue, goedhartigheid en integriteit teenoor self, volk en moederland…
Comments