Wendy Anthonie vertel hoekom jy brillose kosmaak op eie risiko doen.
Dit het gebrand in my huis! Daar was nou wel nie fisiese vlamme soos by die Bybelse braambos nie, maar dit ruik figuurlik na swael soos in die duiwel se lêplek.
Die vlamme wat die hoogste geknetter en geskiet het was die woedevlamme van die huismense se kwaadheid, want aandete was verwoes - heeltemal hel toe! Daar was uitgesien na die Devilled Chicken met sy swart, taai sous van soja, heuning en Worcestershire-sous.
Dis nie altyd maklik om met ’n bril te kook nie, reg? Die lense stoom ewig toe soos ’n motor met stukkende ruitveërs.
Dit was wèèr een van daai dae. Die hitte in die kombuis het aanmekaar my bril tot op die voorpunt van my neus laat gly. Dan moet mens maar die ding afhaal.
Die brillose kokery het goed afgeloop of só het ek gedink. Ek sou ’n besliste 10 uit 10 kry vir voorkoms. Die hoender het pragtig afgesteek teen die groen skil van die skorsies en die oranjekleur van die soetwortels. Die swart sous wat oor die wit kapokaartappels gewaterval het, het almal aan tafel sonder danksegging laat wegval.
Die eerste drie happe was in. “Dis lekker, Ma...” was die laaste woorde wat ek gehoor het, want sekondes daarna het ’n begranisstilte neergedaal.
’n Soliede, wit stilte wat jy met ’n mes kon sny.
Ek het vlietend gedink aan die stilte in die Valley of Desolation in Graaff-Reinet waar mens ’n vlooi kan hoor spring.
Die eerste sensasie wat wat my getref het was die intense hitte in my mond. Dit was asof kokende lawa my tong slat. En toe begin ek kwyl en huil én sweet. Selfs daar waar my ma my nog laas ge-Johnson&Johnson het.
Deur my betraande oë en loopneus het ek gesien hoe die huismense van die tafel af opvlieg. My man het iets geskree wat rym met rocket.
Dis toe ek na ’n drinkglas reik oppad kraan toe dat my oog die speserykas vang. Styf teenmekaar soos ’n verbinde tweeling het die twee oranjekleurige botteltjies gestaan. Oepsie!
Ek het peri-peri in plaas van paprika gebruik.
Ek het gehyg soos ’n hond na ’n drafsessie. Dit was ’n letterlike snot-en-trane saak. Ek het my tong só baie en só vinnig uit gesteek dat ek soos ’n slang op tik gelyk het.
Toe ek loer na myself in die mikrogolfdeur se refleksie was my wange so rooi soos beet se niggie. Ek bid in my kop, maar die oplossing kom nie gou nie. Ek wend my na Google (met my bril op). Ek tik: “The human tongue and chillies”. Roomys is een van die goed wat verligting kan bring, maar ek hét nie roomys nie.
Ek is kinderlik bang om Pa in die oë te kyk - dit vlam steeds. Hy’t weer langs die tafel kom sit - sy kop neergebuig op sy arms asof hy ook bid.
Ek fluister: “Roomys, Pa! Google sê roomys!”
Ons is woordeloos deur KFC se drive through, want maak jy jou mond oop brand dit opnuut. Die vriendelike meisie het gelukkig verstaan toe pa lek-lek beduie het wat hy wil hê.
En so wragtie. Net 20 minute ná die vulkaniese ontploffing het kalmte en vrede neergedaal.
Pa se enigste vraag was: “Hoevil hét djy da’ ingegooi!?”
Was daar rissiebome in die Tuin van Eden?
Comments