Ons gaan soek tradisionele kennis en komvandaan-stories by die vroedvroue van die Richtersveld. Leanne Feris vertel en Loretta Feris het die foto’s geneem.
Spring na:
“Ek is deur ’n vroedvrou op ’n Saterdagoggend in my ma se kamer in die lewe gebring. Haar naam was Antie Karliena Ross. Daarna, soos die gebruik was, het sy elke namiddag gekom om my te kom uitsmeer,” vertel Loretta Feris, ’n lid van die Food Fairies Koe’sister Food Community & Lifestyle Facebook-groep.
“Ek is nie seker hoe lank nie, maar dit hang van elke baba af hoe lank na die geboorte die uitsmeer aanhou. Met my suster het Antie Karliena vir ’n langer tydperk gekom om haar uit te smeer, want sy was ’n koliekbaba. Met elke baba is daar ’n spesifieke rede waarom die smeer-ouma gekom het.” Loretta verduidelik dat Antie Karliena ’n bekende vroedvrou in die omgewing was en baie baba’s se smeer-ouma was.
“Mamma het altyd gepraat van Antie Karliena wat my smeer-ouma was. Sy’t gekom om wat ons vandag ’n baby massage noem te doen. Toe my seun, Ethan, gebore is, kon jy ’n baby massage doen, maar die ma moes die tegniek self leer. Dit was nie iets wat iemand anders kom doen nie, soos die vroedvroue destyds gemaak het.”
Dis komvandaan-stories soos dié wat vertel word in die Food Fairies groep. Die vertellings is nostalgies, maar daar is ook hartseer wat deurslaan oor die verlies aan ons tradisionele kennis wat verlore gaan wanneer ons oumas en oupas sterf.
Dit is juis dit wat aanleiding gegee het tot Loretta se navorsingsprojek, Archiving the Knowledge and Wisdom of the Midwives of the Nama Khoi, vir die Universiteit van Kaapstad (UK) se San and Khoi Centre. Terwyl sy gehelp het om Khoi- en San-oorskot, wat oneties deur die UK bekom is, terug te besorg aan die families in Sutherland in die Noord-Kaap, het Loretta twee boorlinge van die Namakwaland-distrik, André en Denise Owies, ontmoet. Hulle was lede van die afvaardiging belanghebbendes.
“Hulle is baie besorgd dat al die kennis, praktyke en wysheid van tradisionele vroedvroue gaan verdwyn, want hulle praktiseer nie juis meer met deesdae se moderne medisyne nie. Hulle vra toe of daar dalk ’n manier is hoe die universiteit die kennis kan dokumenteer en argiveer,” vertel Loretta.
André, wat nes Loretta deur ’n vroedvrou gevang is, wou erkenning gee aan die vroedvroue en dit wat hulle in die gemeenskap beteken het. Op afgeleë dorpies is vroedvroue ’n waardevolle hulpbron. Presies hoe waardevol het baie jong swanger vroue eers agtergekom in die middernagtelike ure van kraam – wanneer die hospitaal 120 kilometer ver is en dit meestal grondpad is, was ’n vroedvrou noodsaaklik.
Nou is van hulle oud – Ouma Toesie Fortuin is 93 – en ons is in die tweede jaar van Covid-19 (geskryf in 2021 - Ouma Toesie en Ouma Magrietha is sedertdien oorlede). Die waarnemende direkteur van die San and Khoi Centre, June Bam, wou dus hê dat die projek so gou moontlik begin.
Met behulp van André en Denise is ses vroedvroue in Sanddrift, Spoegrivier en Steinkopf geïdentifiseer en onderhoude gereël. Toe val ek en Loretta in die pad Noord-Kaap toe, videokamera en al.
Die vroue se kennis kom duidelik in die onderhoude deur. “Wat vir my uitgestaan het, is die tegniese, gesondheidswetenskaplike kennis wat hulle het. En dit sonder opleiding. Een het byvoorbeeld vertel hoe sy brugbabas gedraai het deur hulle te masseer. Jy moet jou storie ken om dit te kan doen,” vertel Loretta.
Lees Die Vroedvroue Se Stories
’n Waardevolle Diens
“Wat my getref het, is hoe waardevol die diens was wat dié tradisionele vroedvroue in hulle gemeenskappe gelewer het, veral in afgeleë dorpies ver van hospitale,” sê Loretta.
“Deesdae skenk die meeste vroue in Suid Afrika, insluitend dies op die platteland, geboorte in ’n hospitaal. Op die platteland gee ongeveer 8% van vroue tuis geboorte. Gesondheidsdienste behoort dus plek te maak vir tradisionele vroedvroue soos Ouma Toesie. Hulle het die kennis en vaardighede om bystand te lewer gedurende tuisgeboortes.”
“Hulle maak staat op inheemse kennis en vaardighede, en verskaf voorgeboorte- en nageboortesorg aan moeders en babas. In 2019 het die Wet op die Beskerming, Bevordering, Ontwikkeling en Bestuur van Inheemse Kennis die lig gesien. Dit maak voorsiening dat inheemse kennispraktisyns gesertifseer kan word om sulke dienste te lewer. Mens kan redeneer dat tradisionele vroedvroue in terme van dié wetgewing hulle dienste kan lewer.
Dis egter nog nie in werking nie en daar is regulasies nodig wat uiteensit wie as inheemse-kennispraktisyns mag praktiseer. Ons hoop dat dit sal erkenning gee aan tradisionele vroedvroue.”
Die hoop is dat die vroedvrouprojek nog meer vroedvroue se kennis sal opneem en vir die publiek beskikbaar maak sodat dit nie verlore gaan nie. Om die gratis video-opnames van dié onderhoude te sien, kontak die UK se San and Khoi Centre by admin.khoiandsanunit@uct.ac.za
Toekomsplanne
Intussen is daar ook ’n dokumentêr, Vroedvrou, gemaak (lokprent hieronder). ’n Kinderboek, My Derde Ouma – ’n Nama vroedvrou-verhaal, is ook in produksie. Die boek vang die wysheid vas van die Nama-vroedvrou wat deur geslagte heen oorgedra is.
Comments