top of page
Leanne Feris

Vroedvrou-reeks: Antie Dorothea Maritz, Steinkopf

Updated: Oct 18

Vroedvroue is deel van baie van ons se komvandaan. Antie Dorothea Maritz van Steinkopf in die Noord-Kaap se Richtersveld het haar storie aan ons vertel.


Geskryf deur: Leanne Feris. Foto: Loretta Feris


Lees Nog Vroedvroue Se Stories


Antie Dorothea Maritz, Steinkopf

Die volgende dag begin ek deur met Antie Dorothea te praat. Haar manier van werk was baie intuïtief en dit blyk ook dat sy ’n bietjie heldersiende is.


Sy vertel van ’n geval waar sy met die aankomslag geweet dat die ambulans onmiddellik ontbied moes word, eerder as om die baba tuis te vang. Gelukkig het Antie Dorothea saam met die ma in die ambulans geklim, want dis toe juis daar waar sy geboorte gegee het.


“Ek het haar gehelp en die baba uitgehaal. Al wat ek die ambulans-driver gevra het, hoe gaan ek nou in dié geval maak. Toe sê hy vir my: suurstof. Onmiddelik het ek die baba suurstof aangesit. Hy het my ook nie gesê hóé ek moet te werke gaan nie,” vertel sy.


Ma en baba is al twee by die hospitaal afgelaai en die baba in ’n broeikas gesit. Na omtrent 10 minute voel sy daar is fout. “Hier kom sê die suster vir my: Dorothea, die baba het nou net gesterwe.”


“Ek kry aanvoelings wanneer ek besig is met so iets en dan sien ek maar die baba gaan nie deurkom nie. Ek kan nou nie spesifiek sê wat ek sien daarin nie. Ek kan nie verduidelik hoe ek kan sien nie. Ek voel net aan my iets is nie reg nie.”


“Of ek kan iets baie gou aanvoel. ’’n Probleempie wat na my toe kom of in die huis kom. Maar die tyd wat ek destyds in die Kaap klas gegaan het, was die Here saam met my. Ek het op ’n aand gebid en ’n ouderling het saam met my kom bid en vir my gesê, jou geloof is baie sterk en al wat ek moet weet, is om niemand te waarsku nie. Ek moet niemand sê, pasop, dit gaan met jou gebeur nie. Moet niks van daai sê nie. Nou lyk dit vir my dat as ek iets sien om nie daaroor te praat nie. Ek moet dit maar hier binne hou. Maar ek kan ook nie iets gewaar en niks sê nie. Ek moet darem waarsku van dit wat sal gebeur.”


0 comments

Related Posts

See All

Comments


bottom of page