Vroedvroue is deel van baie van ons se komvandaan. Ouma Katriena (Koekie) Majiedt van Sanddrif in die Noord-Kaap se Richtersveld het haar storie aan ons vertel.
Geskryf deur: Leanne Feris. Foto: Loretta Feris
Lees Nog Vroedvroue Se Stories
Ouma Katriena (Koekie) Majiedt, Sanddrif
Ons het eerste met Ouma Katriena gesels. Sy was ’n vang- en smeer-ouma. Dis juis sy wat brugbabas gevang het na sy hulle help draai het: “Kyk, jy maak mos doodseker of die kind se kop onder is en die voete bo is. As die voete onder is en die kop bo is, dan’s dit mos ’n brugbaba. Dan kry die vrou swaar. Maar jy as vroedvrou voel en jy draai vir hom. As jy voel dis voetjies dié, dan draai jy die kind. Jy draai hom dat die kop onder is die voete bo. Jy smeer hom laat hy draai en laat hy reg is.”
As smeer-ouma was Ouma Katriena net so bedrewe wanneer dit by huilende babatjies kom. Sy is baie duidelik dat ’n mens nie ’n pap babatjie moet smeer nie, maar eers van so ses maande af.
“Jy moet hom net só smeer,” verduidelik sy en vryf liggies met haar wys- en middelvingers van al twee hande op die tafel en teen haar slape. “Laat jy daai wind kan uitkry, of enige ding. Nou hy’t miskien ’n x’ai, soos ons mos nou sê. Dis soos die blaaie vas is,” sê sy en vat aan haar skouers.
“Dan vrywe jy hom ook net uit. Totdat hy wind breek. Ek smeer hom gewoonlik met geel Vaseline. Dan’s dit nou uit die nekketjie uit en hier tussen die blaaie wat ek smeer, want daar kan mos rugstuipe ook wees,” verduidelik sy.
Tydens die onderhoud onthou ek dat baba’s soms met die helm gebore is, en dat ’n mens die helmhuisie voor moet oopmaak al op die naat langs. Dié kinders is dan heldersiende. Ek vra toe vir Ouma Katriena wat sy daarvan kan vertel.
“Dourie tyd se grootmense het dit mos weer drooggemaak en hom vir die kind gegee. Dit waarmee hy gebore is moet eintlik sy medisyne wees wat jy moet trek en ingee. Jy kook dit, en jy maak hom fyn en dan smeer jy hom so teen die verhemelte.”
Lees nog oor die projek: Die Skatkis van Wysheid en Kulturele Tradisies op die Platteland
Toekomsplanne
Intussen is daar ook ’n dokumentêr, Vroedvrou, gemaak (lokprent hieronder). Ouma Katriena en Antie Veronika kan in die dokumentêr gesien word. in ’n Kinderboek, My Derde Ouma – ’n Nama vroedvrou-verhaal, is ook in produksie. Die boek vang die wysheid vas van die Nama-vroedvrou wat deur geslagte heen oorgedra is.
댓글