top of page

Vroedvrou-reeks: Ouma Toesie (Sarah) Fortuin, Spoegrivier

Leanne Feris

Updated: Oct 18, 2024

Vroedvroue is deel van baie van ons se komvandaan. Ouma Toesie van Spoegrivier in die Noord-Kaap se Richtersveld het haar storie aan ons vertel.


Geskryf deur: Leanne Feris. Foto: Loretta Feris


Lees Nog Vroedvroue Se Stories


Ouma Toesie (Sarah) Fortuin, Spoegrivier

Almal ken hierdie matriarg van Spoegrivier as Ouma Toesie. Haar ma was ’n vroedvrou en dis waar sy geleer het, maar sy het wel later ’n sertifikaat bekom na sy ’n kort rukkie by ’n dokter studeer het.


Dis duidelik aan Ouma Toesie se vertellings dat sy baie ervare is. Sy het onder andere brugbabas gevang, sowel as babas met die naelstring om die nek.


“Jy help ’n brugbaba, jy sien mos hier kom sy voete, nou sit jy jou hande in en draai die baba. Jy kan hom draai. Stoot die baba terug en so draai jy. Dan kom jy terug dat jy net die koppie kry. Jy sit jou hande agter die skouers in en dan bring jy hom.


“[En as die naelstring om die babatjie se nek is] sit jou vingers agter die kind se nek. Probeer om dit tussen die naelstring en die nekkie in te sit laat hy nie styf trek nie. Hy trek mos styf soos die baba daar uitkom. Dit kan mos die baba se dood veroorsaak. Sit net jou vingers daarin en so soos die baba kom, kom julle uit.”


Sy is ook gekonfyt met babatjies uitsmeer. Daarvoor gebruik sy olyfolie wat sy deur die priester laat seën het.


“Partykeer sal die kind ’n wind hê laat sy oë so omkeer en kry hy nie wind gebreek nie. Dan smeer ek hom uit. Ek begin hier by sy oë,” sê sy en wys hoe sy met ’n vinger oor die wenkbroue vee.


“Dan vat ek hom met my vinger,” vertel sy verder terwyl sy oor haar wangbene vryf, dan langs die mond en agter die ore. “Ek smeer hom ook nie met my hand nie. Die hand is mos te swaar, net met my vinger smeer ek hom. Dan sal ek hom uitsmeer by sy blaaie. Dan vat ek hom en ek smeer die armpies af en as ek hom nou klaar gesmeer het, vat ek sy blaadjies só en ek bring hulle so bymekaar. Die beentjies smeer ek afdraend. En die knietjies voel ek net laat ek voel hulle is reg. Die magie smeer ek ook so met my vinger net so van bo na onder en so die van middel na die sye.”


Ouma Toesie smeer ook volwassenes, dan werk sy nie so sag soos met babas nie. “Ek gebruik my hande en ek smeer hom sommer sterk uit laat hy bars,” lag sy.


Geskryf in 2021. Ouma Toesie is sedertdien oorlede. Rus in vrede, Ouma Toesie.



0 comments

Related Posts

See All

Comments


bottom of page