Vroedvroue is deel van baie van ons se komvandaan. Antie Veronika Roberts van Steinkopf in die Noord-Kaap se Richtersveld het haar storie aan ons vertel.
Geskryf deur: Leanne Feris. Foto: Loretta Feris
Lees Nog Vroedvroue Se Stories
Antie Veronika Roberts, Steinkopf
Antie Veronika was ’n smeer-ouma. Sy’t by haar ma, Ouma Magrietha, se suster geleer om mense te smeer.
“Ek het eers nie daarvan gehou nie, maar later het ek gevoel aan die einde van die dag dan help jy iemand wat siek is. En dit het ’n talent geraak. Want as jy iemand smeer, en hy of sy kom sê vir jou sy voel beter, gee dit vir jou ’n bly gevoel in jou binnekant. Want jy het iemand, met die hulp van die Here, weer gesond gemaak.
“Dit is nie enige mens se werk om dit te doen nie. Maar as jy leer en jy kom by die punt dat jy dit kan doen, dan doen jy dit. Maar dan moet jy met die hulp van die Here dit doen. So werk die smeer.
“En dan baie male dan kom die klein kinders wat nog nie kan loop nie, maar dan’s hulle loopportuur. Dan smeer jy sy beentjies en sy heupetjies. In ’n dag of twee, dan loop hy.”
Van veldkosse, plante en bossiemedisyne kan Antie Veronika ook baie van vertel.
“Jy kry so ’n vaal bossietjie in die veld. Koorsbos. As jy maagpyn het, dan kan jy hom laat trek met warm water en dit drink. Maar as die pyn nou loop erg raak, dan eet jy hom net so, soos hy daar in die bos is. En dan sluk jy die sap. Einste tyd is jou pyn oor.
“Ek het dit self ondervind. Een aand het ek so ’n pyn gehad dat ek op my knieë was. Toe sê my man vir my ek moet daai bos vat en dan moet ek hom eet. Toe’t ek hom so geëet. Binne vyf minute toe’s die pyn oor.”
“Toe ons kinders was, het ons in die veld geloop en as dit so gereën het en dan sien jy maar, hier staan mos ’n xabbê, soos hulle hom genoem het. Maar sy ander naam is bouroe – hy’s soos ’n aartappel. Dan het ons hom gegrawe, geskil, en die kos binnekant geëet.
“En dan het ons ook ’n gxwah en ’n ouroena gehad wat ons geëet het. Die ouroena gee so ’n vaal blom. Dan haal ons daai dingetjie wat binnekant is wat so gestink het uit en dan eet ons die blom.
“En die xharra het ons mos ook geëet. Dit was so ’n groen bos. ’n Fyn dingetjie. Dan vrywe ons hom in die hand en dan val daai blaartjies af en dan eet ons hom. En die uintjie se grou in die grond. Dan maak ons dit skoon, of ons het net vuur gemaak en in die as gebraai en die skille afgehaal en toe’t ons hulle geëet.”
Sy laat val so terloops dat sy rondehuise bou – dis nou die tradisionele matjieshutte van die Nama. Dis ’n rare vaardigheid vandag se tyd en ek is baie bly om te hoor dat Antie Veronika dié kennis nog gereeld gebruik.
Sy verduidelik: “Jy gaan veld toe, hier na die bome toe op die plaas. Dan moet jy daai pale ’n sekere manier saag, en dan moet jy hulle skoonmaak. Ons maak sommer ’n vuur en dan trek ons die paal deur die vuur en trek dan daai bas af. Want as jy hom net so in die grond plant, dan eet die vergaanmier mos nou daai bas en dan breek die paal gouer as wat hy sou gebreek het as hy nie skoon is nie.”
Volgende word die pale gebuig om die kenmerkende koepel van die rondehuise te maak.
“Dan maak die manne mos nou vir ons deure. ’n Onderdeur en ’n bodeur. En dan moet die pale so oor en weer gegrawe word in die grond in en dan vasgemaak word. Dourie tyd, toe’t die grootmense mos tou gedraai uit suikersakke. Dan moet die [geweefde draad] uitgetrek word en dan word dit om die bene gedraai. Die sakke wat jy koop, moet jy mos nou lostrek en dan moet jy hulle weer aanmekaar werk [met ’n seilnaald].
“Jy gee hom ’n daksak – die grootmense het gesê ’n ‘gôdie’. By die voordeur moet jy hom ’n gôdie gee en by die sye en by die agterdeur. Dis ’n stuk of 12 sakke om, en ek dink vyf in die kante en hulle sê jy moet ’n rugsak in die middel oorwerk. En dan moet jy mos nou die vloer ook maak.
“Doerie tyd het die grootmense mos die veemis gebruik. Dan het hulle die vloer mooigemaak en dan het hulle daai mis gevat en daai vloer gesmeer. En dan moet die deure nou oopstaan en dan moet daai vloer nou droog raak.
“As hy nou droog geraak het, dan is hy op die einde van die dag ’n baie mooi besigheid. So dis ’n verskriklike werk wat jy moet doen, maar as jy nou so terugstaan en die huis so kyk, dan sien jy jou hande het baie goeie werk gedoen.
“Ja. Dis ’n plesier om dit te doen.”
Lees nog oor die projek: Die Skatkis van Wysheid en Kulturele Tradisies op die Platteland
Toekomsplanne
Intussen is daar ook ’n dokumentêr, Vroedvrou, gemaak (lokprent hieronder). Antie Veronika en Ouma Katriena kan in die dokumentêr gesien word. in ’n Kinderboek, My Derde Ouma – ’n Nama vroedvrou-verhaal, is ook in produksie. Die boek vang die wysheid vas van die Nama-vroedvrou wat deur geslagte heen oorgedra is.
Commenti